Tuesday, 1 November 2011

Halloween

Ek sit in 'n land waar Halloween net so groot soos Kersfees is. Huise word versier en bakke sweeties en neute word uitgesit vir die buurt se kinders wat die 31ste kom 'trick or treat'.  Laasweek het ek vir 'n tydjie gewonder of ons die regte ding doen om in te koop, in die hele ding.. Dit kan baie dark wees en die duiwel soek gate of maak gate. Ek weet. En ek probeer dink aan wat dit aan my kinders doen.

Na gisteraand voel ek net weer, dat partykeer is dinge wat jy daarvan maak en in dit sien..
Ons bly in 'n stil omgewing. Donkertyd is al die kinders in die huise en als is stil buite.

Op Halloween wag almal tot dit donker is, om uit te kom en die strate is vol ouers en kinders wat almal opge'dress' is, en by al die bure gaan sweets vra. Ons voordeurklokkie lui konstant en mense wat jy gewoonlik nooit sien nie, kom en is in 'n goeie bui en almal lag en geniet 'n rede om snaaks te lyk en sweets te kry...

Tuesday, 11 October 2011

Best day of my life

Partykeer in die lewe, is daar tye van absolute vreugde. Niks maak saak as die oomblik van nou nie. Elke oomblik is net: Lekker! En as jy in my kop kon wees, sou jy sien dis few en far between.
My kinders het 'n fliek waar die seuntjie- as iets lekkers gebeur - sê:  This is the best day... ever.
Vandag kan ek dit ook sê. 

Ek is 'n Suid-Afrikaner, in Ierland. Ons kuiers in SA is almal saam, maar om te dink dat almal sal by my kuier op een slag, is so vêr gesog dat ek probeer om nie te droom nie.
My ma en 'n suster sou kom kuier. Ek het geweet my ma en my oudste suster kom, maar almal het my ander suster se saamkom, stil gehou. Ek het niks verwag nie. Wat 'n wonderlike verassing!! Ons almal saam.


Ierland is baie vêr van die huis af en om almal om 'n tafel te sit en tee drink, was 'n droom. Om my huis te wys en wat ons als doen.. Die tuin. Die kinders se skool. Berg paaie.. Tearooms.. Die mark... Saam by die pub te eet..  Foto's met ons almal saam..

This is the best day ever...

Saturday, 17 September 2011

Kerrie, hier kom ek.

Terwyl die kinders bad, sit ek hier by die rekenaar, en kry myself jammer oor hoe moeg ek is. Ek wil 'n curry chips eet en vergeet van trourokke en die silver is nie dieselfde as die skoene nie en die bridesmaids se rokke moet almal presies dieselfde lengte wees vir foto's. Alles gaan oor foto's.. Maak die saak of die een baie langer en vetter is en die rok se lengte simpel lyk nie.... Die foto's gaan nie so goed lyk, as sy beter lyk nie.

En hoe meer jy kan doen, hoe meer word verwag.  Don't worry, Stephanie can do anything. Is die skoene nie bietjie laag nie? Ek worry nie om te kan loop nie, net solank dit goed lyk. Die baadjie se moue is 5mm te lank.  Ek dink ons moet iets daaraan doen.
Ek wil hê ons moet die rok se middel invat sodat dit lyk of ek een het, maar die rok moenie styf sit nie.....
En die handsak is 'n skakering donkerder as die rok en nêrens kry hulle die regte kleur nie. Nou hoekom bind ons nie die uitrusting en die handsak met 'n blom of iets van die selfde materiaal as die rok nie. En ek het kralletjies van die kleur, vir op die handsak. Stephanie, you are class. You are a saint.  How do you think of these things.

Ek is moeg om probleme op te los wat nie probleme is nie. Gebruik die geld vir 'n nuwe handsak en gee vir 10 ou mense, blomme. 
Ek is te moeg om te tik. Curry, hier kom ek..

Sunday, 4 September 2011

Partykeer blêddie eensaam om 'n ma te wees

Ek ken iemand wat altyd so bly is, dat haar kinders weer skool toe is. Sy sê hulle maak haar klaar. Hulle luister nie, gedra hulle nie. Hardloop die plek vol. Eet die huis leeg..

Ek het daarna besluit dat ek nie daai ou gaan wees nie.  Ek wil my tyd by my kinders geniet. Hulle het nou 2 maande vakansie gehad. Hulle het laat opgestaan en partykeer eiers en toast vir ontbyt gekry, want dis vakansie.  Hulle nefie het bietjie kom kuier. Ons was strand toe. Hulle het piekniek gehou en baie gespeel. Ons het gaan fliek.  En dis tye soos dan, wanneer ek so bly is dat ek by die huis is, om dit vir hulle te kan doen.

Die nuwe skooljaar het Donderdag, die 1ste September begin.en ek het so gewens ek kon hulle nog 'n dag by die huis kon hou.
Ek dink dis partykeer so 'n blêddie eensame harde werk om ma te wees.  Die moeilikste situasies is my verantwoordelikheid.
Ek begin ook dink dat ek te veel voel. Ek dink dis hoekom ek so depressed word. Ek voel alles diep.
(Dit was 'n goeie ding toe my pa oorlede is.  Ek het vir 'n tyd baie min gevoel. Dit was wonderlik. Die 'beste' weke van my lewe. Ek het gedink niks is so erg soos wat nou net gebeur het nie. Niks anders maak so saak nie.Dit het my vry gemaak van my.)
Maar met tyd het ek daardie ability weer verloor-ongelukkig..

Ons het rolle in die huis en een van myne is om siek kinders dr toe te vat en tandartse wat gebreekte tandjies trek en ek moet saam met die kind daardeur kom.  My oudste se afsprake by die voetdokter en die OT.  Bloed trekkings en die sielkundige wat sê dat sy dink my kind het 'n intelegensie probleem.  Gewoonlik is dit ek wat hulle emergency toe vat, soos die keer toe sy swine flu gehad het, en ek kon sien iets is baie groot fout met die kind of die keer toe die ander een blaasontsteking gehad het en in Ierland word antibiotika eers na 4 dae gegee..

Deels is die reling so, omdat dit makliker vir almal is, as ma gaan want pa werk en deels is dit my attempt om die huis aan mekkaar te hou, want pappie val letterlik uit mekkaar uit as iets fout is, met die kinders. Sy wêreld bliksem inmekkaar en ek moet al my emosionele krag gebruik om als aanmekkaar te hou.

Dis fine. Ek is sterk, maar Donderdag was moeilik. My kinders in hulle splinternuwe pinafors, reg vir skool. Ek ry weg van die skool af en my lewe val uit mekkaar.  Ons het nie eiers en toast geëet nie. Net stupid-dis-tyd-vir-skool-pap. Ek het gewens my ma is naby vir tee..

Sunday, 28 August 2011

'n Paar los gedagtes

Ek het 'n paar gedagtes wat ek nie uit my kop kry nie. 'n Paar vrae wat ek nie kan beantwoord nie. Niks ernstig nie, dit bly net maal.

-En 'n dankbaarheid vir my familie. My skoonsuster noem dat ek haar al 'n paar keer die selfde vraag gevra het. Ek is net so 'dankbaar', for lack of a better word. Daarom dat ek wil hoor of almal soos ek voel:  Is jy nie ook dankbaar dat ons familie nie in die hof boer of drugs in die attic het, en so aan nie? In Ierland was die mense wat die dagga kweek, die wat nie sneeu op die dak het nie.
Die vraag  klink bietjie juvenile. Vir een of ander rede het ek baie real life crime programme begin kyk en rerig begin begryp hoe dit families skeur en vernietig. En dit het my so dankbaar gelos.  Ek het 'sout van die aarde' skoonouers. 'n Ma met 'n groot hart. Broers en susters, swaers en skoonsusters wat hard werk en 'n reguit pad loop. Jy moan en groan, maar doen wat reg en goed is.

-Dan wonder ek ook baie oor hoekom ek (en my man) so lief vir speelgoed is.  Nie vir speel nie. Wel, ek speel lego. Elke Kersfees/Jan. as werk min is. Bou huise wat ek self sal wil hê. My pa was siek en ek het 'n huis begin bou en vir weke het elke gryntjie krag in die huis gegaan. My kop wou wegkom en dit was wegkom. 'n Kasteel einlik. 45 kamers. Watervalle. garages.. In elk geval, gewoonlik net vir uitstal en versamel. Daar is 'n baie groot satisfaksie wat ek daaruit kry, om na my versameling te kyk. Ek koop nie enige iets nie. Het baie spesiale lego's, Toy story karakters. Uitstekend gemaak. Die plastiek gebruik is van die ou soort soos toe ek klein was. Sag en durable. Baie, goeie detail.
Toe ek baie klein was, onthou ek een spesifieke keer was ek speelgoed begrawe het, maar bietjie later jare het ek baie mooi na alles omgesien en baie waarde geheg aan my speelgoed. Daai tyd het jy boksies lego gekry wat soos 'n tassie oopmaak. En ek het 'n smurf huisie gehad, van die goeie kwaliteit plasiek waarvan ek genoem het. My broers en susters was baie ouer as ek en toe ek klein was, het hulle al aan trou gedink. Almal wat hulle huis toe gebring het, was in my oë baie grown up. Maar my suster bring toe die ou huis toe en hy het 'n versameling smurfs gehad. Dit het my laat dink, mens hoef nie als op te gee as jy groot is nie.
Ek kan nie wag om te sien of daar Kersfees enige Smurf speelgoed in die winkels gaan wees nie. Die fliek draai nou hier en is hopelik 'n groot genoeg sukses.

-Dan wonder ek ook oor SA. Dinge lyk nie baie goed nie. Nie een spesifieke ding nie. Dit voel net asof baie mense, baie jare, baie hard gewerk het en baie bloed vergiet is, en vir wat? Niks is beter nie. Dit voel asof dinge bietjie, bietjie, bietjie agteruit gaan. Sien net mense buite die land dit raak. Moet jy wegkom om die prentjie in sy geheel te sien? Sien almal dit raak, maar jy is in daai situasie, Jy moet cope??  Kry ons 'n skewe indruk, want koerante moet verkoop?

-Kyk wat in kosprodukte is.  Eet 4 klein sweeties. Het net gekyk of daar vet in is, en toe ek sien dat dit nie het nie, eet ek met gemoedsrus die stupid 4 klein goetertjies. Na 'n ruk lees ek dat 4, 'n gemiddelde persoon se daaglikse voorgestelde suiker inname bevat. Lees wat in alles is.

-Hoekom word my kinders so vinnig groot. Sy het nou die dag nog koliek gehad, nou wil sy haar eie pophuis (net soos Mammie s'n) hê. Ek het meer tyd vir koliek, as geld vir 'n pophuis.

- Wat maak ek verkeerd? Ek het 'n baie lui een. Baie LUI! Wat doen ek verkeerd?  Ek was baie lui en nou nie so baie nie. Dalk is daar hoop.

-My man is baie rasisties. Baie. Maar somehow as dit by rugby kom, sien hy nie kleur nie. Dis sy speler. Almal dieselfde. Nie bruin, swart of wit nie. Almal BLOU.  As die ou perform, kry hy net lof.  As hy 'n fout maak, kry hy so in die TV in, raad gegee en daar word eers vir my verduidelik hoe hy dit kon reg doen. En as die ou droogmaak, word my man woedend, maar word sy ras nooit in die geskel genoem nie. Ek verstaan my man soms glad nie.

Sunday, 17 July 2011

Trou is nie pêre koop nie

Ek wou lankal iets sê van die man saam met wie ek slaap. Toevallig is dit ook die man met wie ek getroud is. Die pa van my kinders en my beste vriend. Ek kry net nie die sinne geformuleer nie.
Ek lees toe 'n blog van 'n dominee wat praat oor mans wat...hoe sal ek dit nou sê...nie hulle vrouens baie mooi behandel nie. Soos my ma sou sê: "So and So's".
En besluit toe dat ek net sal begin tik en kyk wat kom uit.

My man kan 'n helsem wees! Jy wil nie saam met hom ry nie. Road rage is 'n under statement.
Hy hou nie van mense nie. Dis 'n probleem.  Hulle is orals.
Hy is 'n perfeksionis in wat hy doen en maak, wat baie probleme vir almal veroorsaak.
Hy kan nie iets oopmaak en die verpakkings materiaal weggooi nie. Dit bly daar lê. As hy iets kry om te eet, word die bestanddele op die kas gelos.
Hy is 'n control freak. As ek sê dit strykyster is af, gaan maak hy weer seker. As die kinders iets het, soos, let wel: verkoue.. crack hy op.  Hy kan dit nie hanteer nie. Hy slaap nie. Hy is moerig. Hy is mislik. Die kinders raak bang, want hulle begin dink verkoue is ernstig. Hulle verstaan nie, dat dit net pappie is, wat nie beheer oor die situasie het nie.  Dis nag in die huis. Red 'n volk!!!

Hy is ook my beste pêl.

Ek sê altyd ek het ierland toe getrek met my eie, bouer, plumber, elektrisien, verwer, carpenter....
Hy is die ou wat sorg dat ek my ma-hulle een maal 'n jaar kan sien.
Hy is die ou wat sorg dat ons 'n goeie fliek het om te kyk op valentyns dag.
Hy is die ou wat elke jaar ons troudag onthou.
Hy is die ou wat help in die huis as dinge te veel word.
Hy is die ou wat oorvat en die kinders versorg as ek siek is.
Hy is die ou wat die ga-ga werk doen en sê dat hy dit eerder doen as wat ek vuil word.
Hy is die ou wat vir my die nuutste exclusive lego systems koop. (Ek is 'n lego freak).
Hy is die ou wat jy by jou wil hê, as die kar langs die pad breek.  Hy kan 'n engine reg maak met 'n skroewedraaier en 'n rol tape. Ok, ek oordryf, maar hy is baie goed.
Hy is die ou wat die kinders in die bed sit en snaakse stories opmaak.
Hy is die ou wat wakker bly as ek koors het, om te kyk of ek oraait is.
Hy is die ou wat eerder sy hande sal breek as om my seer te maak.
Hy is baie ou wat sy moer suur werk, om vir ons 'n goeie lewe te gee.
Hy is die ou wat vir my enige iets kan bou, sodat ek my kreatiewe drome kan uitleef.
Hy is die ou wat sy laaste stukkie kos vir die kinders sal gee.
Hy is die ou wat ure saam met sy kinders speel.
Hy is die ou wat homself minder gee, sodat hy sy kinders meer kan gee.
Hy is die ou wat verkies om laaste te gaan slaap, sodat hy weet ons is oraait voor hy ook sy oë toemaak.
Hy is die ou na wie jy kan gaan met enige probleem, en heel moontlik vir jou 'n goeie oplossing sal hê.

Hy is ook my beste vriend.

Friday, 3 June 2011

Ek is nog hier

Ek het lanklaas iets getik. Ek wil net laat weet dat ek nog hier is. Die Europese somer is my besigste tyd. Almal trou en moet 'n trourok kry en die wat nie trou nie laat gordyne korter maak, kry vakansie klere reg, begrawe iemand, laat kinders doop of woon die genoemde troues by. En as ek sê hulle doen dit, dan bedoel ek, alles wat iets met lap te doen het, kom na my toe, om te doen.
En dis nie noodwendig dat die werk sooooveel is nie. (Die slegte ekonomie het my ook getref). Dis net alles saam:  kinders en 'n man en 'n huis om skoon te hou en dinge vir die mark en kosmaak en wasgoed en my werk, is alles saam baie om te hanteer. Dan bly die blog agter.

Ek hoop om een van die dae bietjie meer tyd vir kry vir skryf.